21 Februarie 2023
Die koalisie-vennote in die Tshwane metroraad het die DA parlementslid, Cilliers Brink, as die aangewese burgemeesterskandidaat aangewys.
Volgens berigte het die DA vir Brink as die uitgesoekte kandidaat voorgestel ná ‘n keuringsproses, waarna die koalisie-vennote hul goedkeuring met sy kandidatuur gegee het.
Uit dié berigte wil dit voorkom asof die DA se leier, John Steenhuisen, Brink vir dié pos voorgestel het.
Koalisie-vennote het die verstandhouding dat die DA – as grootste party in die koalisie – ‘n burgermeesterskandidaat kan benoem.
Brink – wat die DA se woordvoerder oor samewerkende regering is – het tot hy in 2019 parlement toe is as ‘n raadslid in dié metro gedien, en was van 2016 tot 2018 ‘n burgemeesterskomiteelid.
Pretoria sit sedert verlede week sonder ‘n eerste burger nadat Randall Williams uit dié pos bedank het.