23 Februarie 2023
Die veelpartykoalisie-regering in die Tshwane-metro het ‘n mosie van wantroue in die metroraad se speaker, Murunwa Makwarela, gebring.
Die koalisieregering het dit vroeër vanmiddag in ‘n gesamentlike verklaring bevestig.
Luidens die verklaring het hulle dié mosie gebring weens Makwarela se versuim om ‘n dringende raadsvergadering te belê waartydens ‘n nuwe burgemeester van die Tshwane-metro aangewys kan word.
Die meerderheid raadslede in die metroraad het reeds ‘n petisie onderteken vir dié raadsvergadering.
Die koalisieregering meen hoewel Makwarela, as COPE-lid, sedert die begin deel was van die koalisievennootskap blyk dit nou vir hulle dat Makwarela kop in een mus is met die ANC en EFF.
Die koalisie het die DA se Cilliers Brink as hulle burgemeesterskandidaat benoem. Hulle wou reeds môre ‘n spesiale raadsvergadering hou sodat die proses afgehandel kan word.