30 Novemeber 2023
Die watertekort in die beleërde Knysna munisipaliteit is vererger nadat die gedeeltelik-ontbinde liggaam van ‘n onbekende persoon in die Khayalethu-reservoir gevind is.
Volgens Nwabisa Pondoyi – die dorp se woordvoerder – is die reservoir leeggetap en word dit ingevolge regulasies ontsmet.
Water sal in tenkwaens aan inwoners voorsien word.
Die polisie se sersant Christopher Spies het bevestig dat ‘n geregtelike doodsondersoek gelas is en dat die oorsaak van dood tydens ‘n na-doodse ondersoek vasgestel sal word.
Die jongste verwikkelinge kom in dieselfde week as wat die munisipaliteit – wat bestuur word deur ‘n koalisieregering van die ANC, Patriotic Alliance, EFF en Plaaslike Besorgde Inwoners – onder skoot gekom het van die DA vir die beweerde versuim om water aan inwoners te verskaf.