26 Mei 2023
‘n 3-jarige dogtertjie van Bromhof in Johannesburg is oorlede nadat die omskakelaar (inverter) wat haar asemhalingsmasjien tydens beurtkrag aanhou, se batterye leeg geloop het.
Die koerant, die Randburg Sun berig dat die kind, Neyamiah James se gesin glo nie die omskakelaar se batterye ten volle kapasiteit kon laai nie weens die lang en gedurige kragonderbrekings.
Volgens die koerant het die gesin vir Neyamiah op suurstof probeer hou. Sy het egter glo gesukkel om met die suurstoftenk asem te haal. Haar ma, Sunera sê sy het ook probeer om haar kind aan die gang te hou met ‘n battery-aangedrewe nebuliseerder. “Dit het tot ‘n mate verligting gebring, en sy was stabiel.”
Die krag het volgens die koerant teen 04:15 aangekom, maar het teen 08:00 weer afgegaan vir instandhouding. “Sy het weer begin sukkel om asem te haal, waarna ek en my man na die naaste hospitaal gehaas het. Sy is op pad in my arms oorlede.”
Die dogtertjie het ‘n seldsame brein-ontwikkelingsversteuring genaamd Woree-sindroom gehad wat dwelmweerstandige epilepsie en ontwikkelings-agterstande veroorsaak het.
‘n Plaaslike raadslid en die diensverskaffer, City Power het hulle medelye betuig. Die maatskappy se woordvoerder, Isaac Mangena sê beurtkrag het ‘n verwoestende uitwerking op mense se lewens.
Foto: Randburg Sun
