14 April 2021
Die DA het ‘n klag by die polisie ingedien teen die burgemeester van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit, Maetu Kgaile in Noordwes en ander amptenare van dié munisipaliteit weens hul beweerde versuim om aandag te skenk aan ‘n rioolstorting in Stilfontein.
Die DA-raadslid in die munisipaliteit, Emi Koekemoer sê na talle klagtes deur inwoners oor die reuk naby Republic Park het die party die gebied besoek.
Sy sê ‘n beskadigde rioolpyp het nou ‘n dam gevorm naby Vaal Klub en Pannetjie in Stilfontein. Dié “dam” is naby ‘n woongebied en ook ‘n aftreeoord.
Volgens Koekemoer het die party al talle kere die munisipaliteit gekontak weens aanhoudende rioollekke, maar dat geen langtermyn oplossing gevind word nie.
Koekemoer sê in die verlede het rioolstortings by Pannetjie gelei tot talle visse wat gevrek het.
Sy meen die munisipaliteit se versuim om die probleem aan te spreek maak dit duidelik dat inwoners se gesondheid asook die omgewing nié ‘n prioriteit vir die munisipaliteit is nie.