29 November 2022
’n Verslag wat deur die Nasionale Seereddingsinstituut, die NSRI, uitgereik is, het aan die lig gebring dat die voorkoms van verdrinkings onder kinders die hoogste is in die ouderdomsgroep onder vier jaar oud.
Plaaslike navorsingsdata toon dat 2755 verdrinkings in dié oudersomsgroep oor ‘n tydperk van ses jaar aangeteken is. Die bevinding van die studie stem ooreen met internasionale studies.
Die NSRI het weer ‘n beroep op ouers en toesighouers gedoen om hulle kinders met ‘n valkoog dop te hou wanneer hulle naby oop-waterbronne in die komende Feestyd is.
Daar is ook bevind dat gemiddeld 1477 mense in alle ouderdomsgroepe jaarliks in Suid-Afrika verdrink.
Die NSRI se woordvoerder, Craig Lambinon sê die instituut doen weereens ‘n beroep op strandgangers en swemmers om versigtig te wees en om ten alle tye die reëls te gehoorsaam. “Ons doen ‘n beroep op mense om slegs by strande te swem waar lewensredders beskikbaar is.”
Lambinon sê ook dat kinders ten alle tye vergesel moet word deur ‘n volwassene.