Kiesers in Oostenryk stuur boodskap aan politieke elite in Europa


Luister nou

Volgende

Kiesers in Oostenryk stuur boodskap aan politieke elite in Europa

Nuuskommentaar: 1 Februarie 2023

Deur: Jaco Kleynhans

Kiesers in die Oostenrykse deelstaat Neder-Oostenryk het Sondag in ’n belangrike verkiesing ’n duidelike boodskap aan die Oostenrykse regering en die politieke elite regdeur Europa gestuur. Die uitslag van Sondag se verkiesing hou sterk verband met groeiende frustrasies in die meeste Europese lande wat vanjaar vir ’n hele paar politieke opskuddings kan sorg.

Die Oostenrykse Volksparty, ’n sentrumregse party wat Oostenryk tans in ’n koalisie regeer, het in sy hartland, Neder-Oostenryk, van 50% van die steun tot minder as 40% teruggesak en daardeur sy volstrekte meerderheid verloor. Neder-Oostenryk is die Volksparty se sterkste deelstaat, en die party regeer reeds sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog sonder onderbreking in dié deelstaat.

Neder-Oostenryk is die grootste deelstaat in Oostenryk, met die tweede grootste bevolking naas die hoofstad Wene, en terwyl dit groot voorstedelike en industriële gebiede rondom die hoofstad insluit, strek dit tot aan Oostenryk se grens met Tsjeggië en Slowakye.

Die enigste wenner van Sondag se verkiesing was die regse Vryheidsparty wat sy steun van 14% tot 24% verhoog het en daardeur die tweede grootste party in Neder-Oostenryk geword het. Die vyfjaarlikse verkiesing in Neder-Oostenryk vind altyd ’n jaar voor die federale verkiesing plaas en is ’n goeie aanduider van politieke sentiment in die land.

Tans loop die Vryheidsparty in alle nasionale peilings in Oostenryk voor, en sou dié party volgende jaar se verkiesing wen, sal dit behoorlik skokgolwe deur Europa stuur. Volgens alle aanduidings gaan kiesers in Spanje later vanjaar die huidige linkse regering met ’n koalisie van twee regse partye vervang. In Nederland gaan kiesers in Maart na die stembus om lede vir die provinsiale wetgewers en senaat te verkies, en ook daar word ’n skerp verskuiwing na regs voorspel, met die huidige regeringskoalisie wat sy meerderheid in die senaat kan verloor.

Kiesers in al 27 Europese Unie-lidlande sal volgende jaar na die stembus gaan om 705 Europese parlementslede te verkies. In aanloop tot die verkiesing word die verkiesings in Europese lande vanjaar dopgehou. Dit is duidelik dat kiesers in Europa toenemend gefrustreerd is met die ekonomiese uitdagings van die kontinent, onwettige immigrasie, die energiekrisis en die voortslepende oorlog in Oekraïne.

Meer as 100 000 mense wat nie van Oekraïne afkomstig is nie, het verlede jaar in Oostenryk om asiel aansoek gedoen. Sowat 26% van mense wat in Oostenryk woon, het ’n immigrante-agtergrond, en duisende onwettige immigrante arriveer steeds maandeliks in Oostenryk, soos in die meeste ander Europese lande.

Byna een miljoen mense het verlede jaar in EU-lidlande om asiel aansoek gedoen. ’n Derde was van Sirië afkomstig gevolg deur groot getalle uit Afganistan en Turkye. Die Oostenrykse minister vir integrasie, Susanne Raab, het verlede week gesê dat Europa se immigrasiestelsel gebroke is.

Kiesers in Neder-Oostenryk het Sondag aan peilingsagentskappe gesê dat die enorme toename in immigrante en asielsoekers vir hulle een van die belangrikste kwessies in die verkiesing was. Dieselfde tendens is duidelik te sien in Spanje en Nederland waar verkiesings binnekort plaasvind.

Die toekoms van Europa lyk wankelrig, en groeiende kommer oor immigrasie, die oorlog en die Europese ekonomie voorspel niks goed vir die politieke elite wat regdeur Europa aan die mag probeer vasklou nie. ’n Onstuimige politieke seisoen lê oor die volgende maande vir Europa voor.  

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Kiesers in Oostenryk stuur boodskap aan politieke elite in Europa


Luister nou

Volgende