Nuuskommentaar: 21 November 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat oor die naweek in Katar afgeskop het, is die eerste Wêreldbeker-sokkertoernooi in ʼn Arabiese land en ook die eerste wat in een van die Golflande aangebied word. Die Wêreldbeker is om verskeie redes nuuswaardig, maar die indrukwekkende omvang van die infrastruktuur wat deur Katar, ʼn piepklein woestynlandjie aan die Persiese Golf, spesiaal vir die Wêreldbeker ontwikkel is, sê heelwat oor die olie- en gasproduserende Golflande se finansiële vermoë.
Die huidige Wêreldbeker is verreweg die duurste wat nog ooit in die wêreld aangebied is. Katar het sedert 2010, toe die aankondiging gemaak is dat dié land die Wêreldbeker gaan aanbied, soveel as 220 miljard Amerikaanse dollar spandeer om die indrukwekkendste stadions, paaie, verblyf en ander infrastruktuur vir die Wêreldbeker te ontwikkel. Die afgelope tien jaar is sowat 500 miljoen dollar per dag vir die voorbereiding van die Wêreldbeker spandeer.
Daar is groot simboliek opgesluit in Katar se aanbied van die duurste en uitspattigste Wêreldbeker-sokkertoernooi in die geskiedenis. Die vorige Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2018 is in Rusland aangebied. Die Katar-wêreldbeker kos vyftien keer meer as die een in Rusland. Terwyl lande soos Rusland, en vorige aanbieders van die toernooi, nog aan wêreldbekerskuld afbetaal, het Katar die 220 miljard dollar se uitgawes kontant aangegaan.
Terwyl Europa ʼn enorme energiekrisis beleef en die oorlog in Oekraïne voortgaan met Rusland wat toenemend geïsoleer word, is die grootste wenners die Golflande met hulle groot olie- en gasreserwes. Desperate Europese lande wie se gastoevoer uit Rusland die afgelope maande afgesny is, moet nou elders gas vind. Hulle is bereid om byna enige prys hiervoor te betaal.
Die twee lande met die grootste aardgasreserwes ter wêreld is Katar en Iran. Iran is tans, net soos Rusland, grootliks geïsoleer weens sanksies wat die uitvoer van gas, veral na ontwikkelde lande, verhoed. Dit maak Katar en sy buurlande soos die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië, Bahrein en Oman die groot wenners.
Terwyl die een Europese land na die ander tans in ʼn resessie beland en mense vrees dat hulle oor die volgende maande nie hulle elektrisiteit- en verhittingsrekeninge sal kan betaal nie, het die welvaart in die ses Golflande dramaties die hoogte in geskiet.
Die soewereine welvaartsfondse van die ses Golflande is tans vier triljoen dollar sterk. Die Golflande bou nie net futuristiese nuwe stede nie, maar die Golflande belê miljarde dollars in Westerse lande.
Die per capita-inkomste in die Verenigde Arabiese Emirate het vanjaar tot dieselfde vlak as dié van Duitsland gestyg. Saoedi-Arabië is tans die vinnig groeiendste ekonomie van die G20-lande.
Terwyl ons oor die volgende weke die glans en oordadige omvang van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Katar gaan aanskou, is dit belangrik om die simboliese betekenis hiervan te verstaan.
Die ses Golflande se rykdom spruit suiwer uit die verkope van gas en olie aan ontwikkelde lande soos die VSA, Europa, China en Japan. Terwyl die globale magsverhoudinge besig is om te verander, is die grootste wenners vir nou die lande wat in die wêreld se energiebehoeftes kan voorsien. Die onvermoë van veral Europa om sy eie energieoplossings te bied en die isolasie van lande soos Rusland en Iran speel in die hande van die Golflande. Energievoorsiening gaan oor die volgende jaar die magsverhoudinge wêreldwyd dramaties verander.
Foto: CNN