26 Julie 2023
Agt kandidate, insluitend die waarnemende openbare beskermer, Kholeka Gcaleka, is gekortlys vir die pos van openbare beskermer (OB).
‘n Ad hoc-komitee van die parlement het vroeër vandag dié kortlys saamgestel vanuit die 36 benoemings wat vir die pos ontvang is. Die geskorste openbare beskermer, advokaat Busisiwe Mkhwebane, se amp kom amptelik in Oktober tot ‘n einde.
Die meerderheid van die kandidate is regslui. Hulle is Muvhango Lukhaimane, advokaat Tseliso Thipanyane, advokaat Lynn Marais, advokaat Kholeka Gcaleka, advokaat Oliver Josie, advokaat Tommy Ntsewa, landdros Johannah Ledwaba en professor Boitumelo Mmusinyane.
Die kandidate sal nou ‘n keuringsproses ondergaan voordat hulle volgende maand vir onderhoude genooi word.
