22 November 2023
Die Kanadese regering het binnelandse handel in olifantivoor en renosterhoring verbied, asook die invoer van jagtrofeë wat hierdie dele bevat.
Dié stap, onder leiding van die Humane Society International/Canada, volg op ‘n sewe jaar lange veldtog deur Kanadese dierebeskermingsgesindes, kunstenaars en musikante soos – Bryan Adams – en is deur Afrika-bewaringsbewustes ondersteun.
Volgens data van die Verenigde Nasies se wildhandelsorganisasie CITES is meer as 450 Afrika-olifanttande, 16 renosterhorings, 81 olifanttrofeë en 44 renostertrofeë tussen 2010 en 2021 wettiglik in Kanada ingevoer.
‘n Soortgelyke stap om trofee-invoere in die Verenigde Koninkryk te verbied was nie suksesvol nie, met die arbeidersparty wat ministers versoek het om weer te probeer om dit op die sakelys te kry.