Die Kanadese eerste minister, Mark Carney sê sy land sal nooit die knie buig vir die VSA nie.
Hy het vandag dié land se verkiesing gewen na ‘n veldtog wat deur die volgehoue uitdagings en verhoogde handelstariewe van die VSA se president Donald Trump oorskadu is. Die leier van die Liberale party het Trump veroordeel deur ‘n boodskap van eenheid te stuur en belowe om almal wat Kanada as tuiste beskou te verteenwoordig.Carney sê die VSA soek Kanada se water, grond en hulpbronne, maar het herhaal dat die VSA nooit die land sal besit nie.
Die leier van die konserwatiewe party, Pierre Poilievre het vanoggend sy nederlaag aanvaar en sê Carney het genoeg setels gewen om ‘n minderheidsregering te vorm. Intussen het wêreldleiers begin om Carney geluk te wens. Frankryk se president, Emmanuel Macron, het Carney geluk gewens, en meen hy verteenwoordig ‘n sogenaamde sterk Kanada. Hy sê Frankryk sien uit na ‘n hegte vriendskap en samewerking wat die twee lande saam bind. Oekraïne se president Wolodimir Zelenski het hom ook geluk gewens, en sê sy land se hegte verhouding met Kanada lê hom na aan die hart. Trump het nog nie op die oorwinning gereageer nie. |