4 April 2023
‘n Ongenooide passasier het op ‘n privaat vliegtuig geklim, en is stééds nie lus om af te klim nie.
Rudolf Erasmus, ‘n privaat vlieënier vir di konstruksiemaatskappy, NKP Konsultante en Ingenieurs sê hulle sou aanvanklik Maandag gevlieg het van Worcester lughawe na Bloemfontein, en toe na Wonderboom in Pretoria en weer na Nelspruit.

Volgens Erasmus is die slang vermoedelik ‘n Kaapse Kobra en is Sondag op die Worcester lughawe onder die vliegtuig se wiel opgemerk. Hy sê hy is gister (3 April) deur kollegas oor die slang ingelig. Volgens hulle wou hulle die slang vang, maar dié het toe in die enjin wegkruipplek gesoek.
“Ons het hom gesoek, maar nie gekry nie en aangeneem dat hy oornag uitgekom het. Ons vlieg toe van Worcester na Bloemfontein om brandstof in te gooi. Daarna was die volgende bestemming die Wonderboom-lughawe.”
Hy sê toe hulle op ‘n hoogte van 11 000 voet gevlieg het, wou hy ‘n sluk uit sy waterbottel neem. “Ek sit dit gewoonlik tussen my heup en die middelste deel van die vliegtuig. Toe ek my waterbottel wou optel, toe sien ek die slang van sy kop onder my sitplek uitsteek.”

Erasmus meen die slang was op pad om onder sy hemp in te klim. “Ek het my vier passasiers ingelig dat die slang wat hulle op Worcester gesien het nou saam met hulle in die vliegtuig is. Ek het Johannesburg se lugkontrole ingelig dat ek ‘n noodlanding in Welkom gaan doen, weens die slang in my kajuit.”
Hy sê op Welkom het hy en sy passasiers uitgeklim, die slang is toe opgekrul onder Erasmus se sitplek gevind waarna hy slangvangers in Welkom gekontak het.
“Die slangvangers doen hulle bes, maar ons kry hom nogsteeds nie. Die passasiers is intussen met ‘n huurmotor na Nelspruit, terwyl ek, my vliegtuig en die slang steeds in Welkom gestrand is.”