23 November 2021
Die man, wat in die sop beland het toe hy op die sosiale media-platform, TikTok herhaaldelik die k-woord gebruik het, is nog nie in hegtenis geneem nie omdat hy glo in ‘n hospitaal opgeneem is.
Henrico Barnard van Limpopo het ná die skietvoorval in Muldersdrift, waartydens Len Cloete deur ‘n polisiebeampte in die kop geskiet is, twee videos gemaak waarin hy sy misnoeë uitgespreek het en ongeveer 12 keer die k-woord gebruik het.
Die polisiewoordvoerder, brigadier Motlafela Mojapelo het bevestig dat Barnard van Crimen injuria, intimidasie en aanhitsing tot geweld, aangekla word. Hy kon egter nog nie in hegtenis geneem word nie omdat hy steeds – weens onbekende redes – in die hospitaal is.
“Ek weet nie wat fout is met Barnard nie, maar hy sál vasgetrek word sodra hy ontslaan word.”
Barnard het ook in sy videos gedreig dat hy “enige polisiebeampte sal doodskiet, wat hom probeer vastrek.” Hy het ook aangevoer dat hy ‘n bewonderaar van Adolf Hitler is.
Barnard het intussen die videos verwyder en om verskoning gevra. Hy meen hy was so geskok deur die gebeure in Muldersdrift dat hy oorreageer het.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ook aangedui dat hulle ook die voorval ondersoek.
Stem vir die Aitsa’s