Nuuskommentaar: 6 September 2022
Deur: Jan Bosman
Die jammerlike toedrag van ons nasionale weermag se sake word deur Kobus Marais, DA-woordvoerder oor Verdediging, beskryf in Daily Maverick op 2 Junie 2022. Hy lys die volgende beskikbare toerusting:
- Een van drie vaarbare fregatte wat ook maar sukkel weens die onbeskikbaarheid van onderdele.
- Geen van drie duikbote;
- Geen van die 26 Gripen-vegvliegtuie;
- Drie van 24 Hawk-vliegtuie wat gebruik word om vegvlieëniers op te lei;
- Geen van die vier Lynx-maritieme helikopters; en
- Drie van 30 Agusta-helikopters.
Die volgende verdedigingstoerusting is wel diensbaar:
- Twee van die 35 PC-7 Pilatus-vliegtuie wat gebruik word om SA Lugmag-vlieëniers op te lei;
- Vier van die 11 strategiese Rooivalk-aanvalshelikopters, waarvan drie in die Demokratiese Republiek van die Kongo is;
- 17 van die 39 strategiese Oryx-helikopters, waarvan vyf in die Demokratiese Republiek van die Kongo, met die res wat dun verspreid is oor SA;
- Een van ses C-130-vragvliegtuie, wat noodsaaklik is vir die vervoer van troepe, logistieke toerusting en opleiding van valskermsoldate en spesiale magte; en
- Een 85-jarige Dakota, wat nie in staat is om maritieme patrollie en verkenning te doen nie.
Suid-Afrika se weermag en weerbaarheid is op die altaar geplaas ter wille van transformasie en uitgediende ideologiese beleidsrigtings wat teen alle koste nog steeds bevorder en verdedig word. So onlangs as 31 Augustus 2022 beantwoord die veiligheidsgroepering van ministers vrae in die parlement en is Thandi Modise, Minister van Verdediging vas oortuig dat die weermag nog steeds in staat is om Suid-Afrika te verdedig, maar gee darem toe dat daar kritieke wapenrusting en vaardighede is wat Suid-Afrika benodig. Volgens Netwerk24 is Minister Modise wel bekommerd oor sowat 750 maatskappye wat van die weermag afhanklik is, wat op die rand van ineenstorting dobber.
Beplanning en onderhoud – Dit skryf die oudredakteur, Tim du Plessis is begrippe wat Afrika nie onder die knie kan kry nie. Die groot hartseer is dat Eskom op die rand van ineenstorting moes staan voordat vorige kundiges en ervare mense se hulp nader getrek is. Is dit nie maar wat ook moet gebeur in ander sektore nie? Elke dag hoor ons van nog kundiges, Wit, Bruin en Swart wat Suid-Afrika verlaat en hulle kundigheid elders in die wêreld aanwend. In Suid-Afrika maak ons egter staat op Kubaanse “hulp” wat ten duurste ingevoer word.
Op 27 September 2021, skryf John Kane Berman van die Institituut vir Rasseverhoudinge wat onlangs oorlede is in ‘n artikel The other elephant in the room”, en sê hy “In 1994 het die ANC ‘n funksionerende staat geërf. Die comrade-kaders het egter toe voortgegaan om te plunder en te vernietig. Hiervoor toon hulle min berou en nog minder het hulle enige voorneme of vermoë om dit reg te maak wat hulle gebreek het.”
‘n Maand later en so onlangs as 24 Oktober skryf RW Johnson in Rapport Weekliks onder die opskrif “Die Afrikaner se erfenis is te sien om ons – Die ANC het bitter min om te wys.” Johnson skryf oor die rol van Afrikaners in die tydperk tussen Uniewording en 1994, waartydens Suid-Afrika deur Afrikaners gelei is.
“Daardie periode is gekenmerk deur enorme ekonomiese groei, die industrialisering en verstedeliking van die land, die bou van indrukwekkende infrastruktuur sonder enige gelyke in Afrika – nie net paaie en brûe en damme nie, maar hawens, lughawens en gesofistikeerde waterstelsels. Bowenal is duisende skole, hospitale en klinieke gebou en beman, sowel as meer as ‘n dosyn universiteite. By verre die grootste en beste geïntegreerde spoorstelsel in Afrika is gebou en onderhou, sowel as Afrika se leidende lugredery. Die land se behuisingsaanbod is geweldig uitgebrei – insluitend die bou van swart townships op ‘n hoër standaard as wat in die HOP-era gesien is. Die hoogste vlakke van ekonomiese groei in Suid-Afrika is in die 1950s en 1960s gesien.”
In Suid-Afrika is dit egter ikabod om na die verlede en prestasies in een asem te verwys. Vir al die kritici wat Afrikaners niks gun nie en heeltyd verdag maak – slegs die volgende soos wat die legendariese Springbok oom Boy Louw in gebroke Engels teenoor iemand opgemerk het “Looks at the scoreboard …!”