18 Junie 2024
Die leier van die EFF, Julius Malema was in ligte luim buite die Oos-Londen Streekshof, waar hy en sy lyfwag, Adriaan Snyman se verhoor vanoggend begin het.
Malema is met ‘n reuse skade buite die hof verwelkom waarna hy hulle toegespreek het. Die party se adjunk, Floyd Shivambu en die sekretaris-generaal, Marshall Dlamini het Malema vergesel.
Die saak hou verband met klagtes van die afvuur van ‘n vuurwapen tydens die EFF se 5de herdenkings-vieringe by die Sisa Dukashe Stadion in Mdantsane, tussen Oos-Londen en King Williamstown in 2018. Videos is destyds wyd versprei van die gebeure.
Landdros Twanett Olivier het weer die saak behartig, nadat Malema vroeër aangevoer het dat sy onbevoeg is.
Malema het vroeër aangevoer dat Snyman die vuurwapen aan hom oorhandig het.
Die saak word tot Donderdag aangehoor.