Deur: Redaksie
Die kleinste skraap of stamp kan vir die jong tiener van Odendaalsrus die pyn veroorsaak van ’n derdegraadse brandwond, maar ondanks sy seldsame toestand, hou dié mannetjie steeds sy lyf boerseun.
Die 15-jarige Hannes Taljaard is met ’n pynlike velsiekte gebore wat veroorsaak dat sy vel buitengewoon sensitief is, maar al verduur hy nog sy hele lewe lank intense pyn, lewe dié jongman sy lewe voluit.
“Ons sal nooit ons seun van iets weerhou nie. Ek weet hy het baie pyn, maar hy moet steeds pure kind kan wees,” sê sy pa, Janus.
Hannes is by geboorte met Simplex Koebner gebore, wat ’n variasie van die genetiese toestand Epidermolysis Bullosa is. Dié seldsame en uiters pynlike siekte veroorsaak dat die kleinste stamp of wrywing op die vel erge blase op die vel, voetsole en handpalms vorm.
Die enigste behandeling vir die genetiese siekte is ’n beenmurgoorplanting, maar Hannes kom nie in aanmerking nie omdat hy ’n minder ernstige variasie van die toestand het.
“Al wat ons kan doen, is om sy wonde te behandel. Ons kan ook nie gewone pleisters gebruik nie want as jy dit aftrek kom die vel saam af. Ons maak gebruik van sagte verbande en watte om sy wonde en blase te behandel,” sê Janus.
Volgens Janus het hy en sy vrou, Charmaine, reeds kort ná die geboorte besef iets is ernstig fout met hulle seuntjie.
“Hy het as babatjie sere in sy mond gekry as hy melk gedrink het. Dokters het vroeg die siekte by hom gediagnoseer. Dit was die eerste geval van dié siekte wat die dokters in Bloemfontein teëgekom het.”
Dit veroorsaak ook dat Hannes se pyndrumpel baie hoog is.
“Dokters sê die wonde en blase wat hy opdoen, is gelykstaande aan die pyn en seer van derdegraadse brandwonde.”
Sy toestand is van so ’n aard dat Hannes selfs van growwe materiaal sere kan ontwikkel.
“Ons het gelukkig spesiale vergunning van die skool gekry dat Hannes sy sportdrag skool toe mag dra.”
Hannes is tans ’n gr. 9-leerling aan Goudveld Hoërskool.
“Sy grootste wens is om rugby te speel, maar dit is ongelukkig nie moontlik nie. Ek sou wat wou gee om te sien hoe my bulletjie op die rugbyveld uitdraf,” sê Hannes.
Die eerste rugbyspan het egter vir Hannes aangestel as hulle assistent.
“Hy is baie trots op sy werk en hy is elke Saterdag langs die rugbyveld.”
Hannes is ook ’n boer in murg en been. Sy pa boer in die Goudveld met mielies, beeste en sojabone.
Die jong boerseun hoop om eendag die boerdery by sy pa oor te neem.
“Hy help met die boerdery en doen als, van trekker ry tot ploeg en plant. Hy sal self vragte mielies rondry en het onlangs sy eie sojabone geplant. Hy sal ure alleen in die landerye deurbring. Hy is baie selfstandig.”
Volgens Janus is daar op hierdie stadium geen behandeling vir Hannes beskikbaar nie.
“Omdat dit só ’n skaars siekte is, is daar baie min navorsing al gedoen. Daar is sprake van stamselbehandeling wat dalk kan help, maar ons het dit nog nie ondersoek nie.”
Intussen maak Janus en sy vrou seker dat Hannes voluit lewe sonder enige beperkings.
“Ek kan nie my kind in watte toedraai nie. Watter soort lewe sal dit wees?”
One Response
Sal graag met Hannes se ouers in aanraking wil kom om n alternatiewe behandeling voor te stel.