27 Januarie 2023
Die Johannesburg-metro sal vandag ’n nuwe burgemeester verkies, nadat Mpho Phalatse gister tydens ’n mosie van wantroue uit dié pos verwyder is.
Phalatse is een van die kandidate wat benoem is vir burgemeester.
Die ander kandidate is Funzi Ngobeni van ActionSA, en Al Jamah Ah se Thapelo Amad.
Die ANC het nie ’n kandidaat benoem nie, en sal heel waarskynlik berus by Amad, wanneer daar gestem moet word. Phalatse sê dit is nie die einde van haar politieke loopbaan nie, en dat sy steeds wil poog om die stad reg te ruk.
Intussen sê ActionSA dit is net ‘n kwessie van tyd voor die veelpartykoalisie in die Ekurhuleni-metro ook uitgestem gaan word. Gister se raadsvergadering in die metro het in duie gestort.
Volgens ActionSA se Siyanda Makhubu het die ANC en die EFF genoeg steun om die DA burgemeester, sowel as die Speaker en die raad se hoofsweep deur mosies van wantroue te verwyder.
Makhubu sê dienslewering in die metro het geensins verbeter nie, en probeer die burgemeester en koalisiepartye nou aan mag vasklou deur die raadsvergaderings te ontwrig.