Die VF Plus in die Johannesburg-metro sê dié stad kan nie van krisis tot krisis voortstrompel nie en meen daadwerklike veranderinge moet gemaak word.
Dit kom in reaksie op die burgemeester, Dada Morero,se stadsrede vroeër die week. Die VF Plus-raadslid in die Johannesburg-metro, Franco de Lange sê die ANC moet as regerende party begin om ongewilde besluite te neem om die stad van ondergang te red.
De Lange sê in die VF Plus se repliek op Morero se stadsrede het die party hom daaraan herinner dat daar ‘n reuse agterstand is in die herstel van slaggate, straat- en verkeersligte.
Hy sê Morero het in sy stadsrede genoem dat niemand in Johannesburg honger moet gaan slaap nie. Volgens De Lange is maatskaplike toelae nie ‘n oplossing nie en meen die stad se ekonomie moet eerder gestimuleer moet word om ware werksgeleenthede te skep.
Op die burgemeester se voorstel dat informele nedersettings van krag voorsien moet word, het die party hom oor die vingers getik en gevra of die inwoners in staat is om vir dienste te betaal.
Die VF Plus hoop die volgende punte is deel van die omkeerplan:
- Die invordering van uitstaande skuld.
- Die herevaluering van die stad se verkrygingskettingproses.
- Streng optrede teen kabeldiewe.
- Stop nuwe projekte en bestee geld aan onderhoud van agterstallige infrastruktuur.
- Vind maniere om eie kapitaal te genereer en moenie staatmaak op provinsiale en nasionale toelae nie.