Die medisynevervaardiger Johnson&Johnson sê hul entstof teen die Covid-19 virus is meer doeltreffend indien ‘n tweede inenting gegee word.
Die maatskappy sê ‘n tweede inenting 56 dae na die eerste verleen ‘n 75% beskerming teen simptomatiese Covid. Die syfers spruit uit kliniese toetse wat wêreldwyd gedoen is. Die vlak van beskerming het in Amerika tot 94% gestyg.
Die maatskappy sê die rede vir die verskil is nog nie duidelik nie, maar dit kan verband hou met die feit dat daar minder variante in die VSA was toe die data saamgestel is.
Die teenliggaampies in mense wat ‘n tweede inenting twee maande na die eerste ontvang het was vier tot ses keer hoër as na die eerste dosis.
In ‘n afsonderlike studie in die VSA onder 390 000 mense is bevind dat diegene wat die inenting van Maart tot Julie 2021 ontvang het ‘n 79% beskerming teen infeksie het en 81-persent beskerming teen hospitalisasie.