12 Desember 2022
Die uitvoerende burgemeester van Johannesburg, Mpho Phalatse, het ‘n versoek aan Eskom gerig om beurtkrag vir 72-uur op te skort om tegnici in dié stad kans te gee om by al die foute wat tans ervaar word uit te kom.
Teen vanoggend het die agterstand van kragonderbrekings weens foute in die kragnetwerk in dié metroraad tot vier-duisend gestyg.
Phalatse sê terwyl daar wel vordering gemaak word met herstelwerk, veroorsaak die gure weer dat daar voortdurend nuwe probleme aangemeld word.
Volgens haar veroorsaak beurtkrag nie net bykomende probleme nie, maar kan tegnici ook nie probleme eien terwyl die kragtoevoer onderbreek is nie.
Volgens die burgemeesterskomiteelid belas met die omgewing en infrastruktuurdienste, Michael Sun, lei die kragonderbrekings ook tot ‘n toename in kabeldiefstal.