3 April 2023
President Cyril Ramaphosa sê baie jong Suid-Afrikaners sukkel om werk te kry omdat hulle nie enige werksondervinding het nie.
Hy skryf in sy weeklikse nuusbrief dat hulle dikwels uit skool, universiteit of ander tersiêre instellings stap met die nodige kwalifikasies, maar werkgewers stel hulle nie aan nie omdat hulle werkers met ondervinding soek.
Werkloosheid onder die jeug (15- tot 34 jaar oud) het teen die einde van 2022 op 46,5% gestaan.
Ramaphosa sê weens werkgewers se eise vir ondervinding het die regering in 2018 die Jeug Indiensnemingsdiens-program (YES) op die been gebring. Dit behels samewerking met die privaatsektor om werk te skep vir die jeug.
“Vyf jaar na die loods van die YES-program neem werkloosheid onder die jeug af. As deel van die program het meer as 100 000 jong mense tussen 18- en 29 jaar oud reeds werksondervinding vir ‘n jaar gekry.”
Hy sê as deel van die program het dié jong mense R6-miljard in salarisse ontvang, en kon dit dus in Suid-Afrika se ekonomie teruggeploeg word.