3 Mei 2023
Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, gaan langer by Eskom aanbly.
Oberholzer, wat aan die einde van April sou aftree, het bevestig dat sy kontrak by Eskom verleng is te midde van die voortslepende kragkrisis. Hy sê sy werk sal fokus op die bestuur van projekte om Suid-Afrika deur die kragkrisis te help.
Dít volg nadat die kragvoorsiener in Februarie aangedui het dat die pos van bedryfshoof by Eskom geskrap sal word ná Oberholzer se aftrede. Hy is reeds langer as 30 jaar by Eskom, en is reeds sedert 2018 in die pos van bedryfshoof.
Oberholzer het in ‘n vorige onderhoud met Klankkoerant gesê dat hy beplan om steeds hulp aan Eskom te verleen as ‘n konsultant ná sy aftrede.