10 Mei 2021
Die jagluiperwyfie van die Rietvlei-natuurreservaat wat glo Dinsdag onderdeur ‘n heining gekruip en pad gevat het, is vanoggend in die reservaat opgemerk waar sy jag gemaak het op ‘n blesbok.
Njozi het vermoedelik besluit dat die swerwerslewe haar nie geval nie en sy het self haar pad terug huis-toe gekry.
LEES OOK: RIETVLEI JAGLUIPERD STEEDS SOEK
Die burgemeesterskomiteelid belas met omgewings- en landboubestuur in die Tshwane metroraad, Dana Wannenburg, het almal wat na Njozi gesoek het, bedank .
Die eienaar van ‘n naby-geleë eiendom het haar Dinsdag op straat gewaar en die park se bestuur daarvan verwittig. waarna ‘n grootskaalse soektog op tou gesit is.
Njozi is vroeër met die hulp van die Trust vir Bedreigde Spesies se jagluiperd-uitbreidingsprojek in die reservaat hervestig.