Deur: James Kemp
Die pad na Jagersfontein is besaai met slaggate. Die Vrystaatse paaie is `n staande getuienis van die jare van staatskaping en plundering wat die provinsie beleef het onder die premierskap van Ace Magashule.

Die frustrasie wat motoriste van elders in die land tydens hulle rit deur die Vrystaat beleef is egter net `n fraksie van die werklike vernietiging wat die gemeenskappe onder sy bewind beleef het. Die tog moet egter aangepak word want Pretoria FM het `n rampfonds op die been gebring en ons wil graag gaan blad skud met diegene wat daarby gaan baat. Ek kyk weer na die Whatsapp-boodskap van die Buffelsfontein-groep se Meyer le Roux: “James, ons wil R10 000 vir julle Jagersfontein Hulpfonds skenk”. Dit was die tweede R10 000 na Pretoria FM se bydrae van dieselfde bedrag aan die fonds. Daarna het die bydraes op `n streep ingekom en uiteindelik het ons die R100 000 kerf bereik.
Ek ontmoet die voorsitter van Jagersfontein se Boerevereniging, Albertus van Schalkwyk, by die vulstasie in die dorp. Die vriendelike dame in die kafee by die vulstasie maak vir ons `n wegneemkoffie en ek bied aan om te betaal. Sy wys my egter daarop dat sy nie bankkaarte neem nie maar stel voor dat ons, na ons `n paar draaie in die dorp gery het, `n draai by die OTM maak en dan kom betaal. Terwyl ons die koffie in die parkeerarea by die vulstasie drink vertel Albertus my dat daar diegene is wat hoop dat die watertoevoer herstel sal word nou dat Jagersfontein amptelik tot `n rampgebied verklaar is.
“Hoe lank is julle watertoevoer nou af?” vra ek en verwag `n antwoord in die omgewing van twee of drie weke.
“Ses jaar,” antwoord Albertus.
Ek bombardeer die arme boer met `n rits vrae oor die munisipaliteit en hy beduie dat ek eerder agter hom moet aanry. ‘Dis makliker om te gaan wys’ lei ek af. Ons stop langs `n afgebrande murasie. Die enkele vensters wat nog oor is, is almal gebreek. Jagersfontein se munisipale kantoor. Die munisipale bestuur bestaan nie meer nie. Salarisse word steeds betaal maar dienste word nie gelewer nie. Die munisipaliteit is net eenvoudig nie bevoeg om dit te lewer nie.
Ek ry verder agter Albertus aan en verkyk my aan die bome wat soos klein takkies geknak is, die huise waarvan die mure uitgebreek is en die groot grys wat my omsingel. Grys. Die kleur van die slik wat `n harde oppervlak vorm waar dit tot ruste kom. Die weivelde waar skape moet loop is in grys gehul. Die voerbale lyk soos `n graniet kunswerk wat in `n museum aard. Grys. En giftig. Die slik wat uit die dam en oor die dorp gespoel het is toksies en alles wat dit aanraak is nou onbruikbaar. Voer is `n dringende behoefte.
Later in Klankkoerant Middag bel Jaco Versfeld my vir `n gesprek oor my besoek aan Jagersfontein. Ek weerspreek myself en verwys per abuis na Rampfontein. Vir `n oomblik oorweeg ek dit om my fout te ignoreer in die hoop dat luisteraars dit dalk nie sou agterkom nie. “Dit is inderdaad Rampfontein,” onderstreep ek my glips teenstrydig met wat Johannes van der Walt my in my vroeë uitsaaidae geleer het. “Jy onderstreep nooit jou foute nie,” het die radiolegende altyd gesê. “Jy beweeg aan.”
Op pad uit die dorp uit stop ek weer by die vulstasie om vir die koffie van vroeër te betaal en `n paar van die plaaslik gebakte koeksisters vir die pad te kry. Die kafee voel vir my veel donkerder as vroeër. Soos my gemoed. Ek is hartseer oor die eens pragtige dorpie, hartseer oor die ramp wat dit getref het en hartseer oor die feit dat die ramp nie eers op 11 September 2022 gebeur het nie maar veel vroeër toe die pragtige Vrystaatse dorpie een van vele slagoffers van staatsbeheerde plundering sou word.
Ek pak die eerste paar kilometer van die tog terug in stilte aan voor ek besluit om weer die Pretoria FM-toepassing op my selfoon aan te skakel. Susan Botha is op die lug en haar sprankelende stem lig skielik my gemoed. My frustasies van kort te vore is nie weg nie maar ek besef skielik dat ek nie alleen is nie. Ek is deel van `n groter gemeenskap wat net so gefrustreerd is soos ek. Ek besef dat elke luisteraar wat op die oomblik saam met my ingeskakel is saam getreur het oor die gebeure in Jagersfontein en saam bygedra het om uiteindelik by R100 000 uit te kom.
Later die middag lui my foon. Dit is die voorsitter van Pretoria FM se direksie, Willie Spies, wat wil hoor hoe die dag verloop het. Willie is steeds stomgeslaan deur die feit dat ons daarin geslaag het om R100 000 in te samel.
“Willie, ons bevind onsself in goeie geselskap,” sluit ek die gesprek af. “Ons luisteraars.”