18 Julie 2024
Die twee verdagtes wat Dinsdag in Sabie in Mpumalanga in hegtenis geneem is in verband met die moord op die voormalige hoogspringkampioen, Jacques Freitag het vanoggend vlugtig in die Pretoriase landdroshof verskyn.
Die 52-jarige Rudie Lubbe en 42-jarige Chantelle Oosthuizen staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en sameswering om moord te pleeg.
Die staat het gevra dat die hofverrigtinge uitgestel word sodat die polisie hul ondersoek kan voltooi. Die staat het ook gevra dat die beskuldigdes in die Pretoria-Moot-polisieselle aangehou word om die ondersoekbeamptes se toegang tot hulle te vergemaklik.
Freitag is op 17 Junie as vermis aangemeld, waarna sy liggaam op 1 Julie in ‘n veld naby die Zandfontein-begraafplaas gevind is. Lubbe en Oosthuizen het hom na bewering R60 000 aangebied om die verloofde van Oosthuizen, Louis Harmse te vermoor.
Freitag het hom met ‘n baksteen aangeval, maar nie vermoor nie. Die vermoede is dat hy vermoor is omdat hy nie “die werk voltooi het nie.”
Die saak is tot 24 Julie uitgestel.