21 April 2021
Oud-president Jacob Zuma se prokureur het ‘n formele kennisgewing by die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof in Pietermaritzburg ingedien dat hy hom van die korrupsiesaak onttrek.
Dit is van toepassing op Zuma se hele regspan wat beteken dat advokaat Muzi Sikhakhane hom ook aan die saak onttrek. Die prokureur, Eric Mabuza het nie redes vir sy besluit gegee nie. Die saak is veronderstel om op 17 Mei in dié hof aangehoor te word.
Dié optrede volg op die Hoogste Hof van Appèl se besluit verlede week dat Zuma nie kan appelleer teen ‘n beslissing van die Gautengse Hooggeregshof – dat die staat nie vir sy regskoste van ongeveer R25-miljoen verantwoordelik is nie.
Zuma is by verskeie regsaksies betrokke maar die saak in Pietermaritzburg hou verband met die beweerde betaling van miljoene rand aan Zuma deur sy voormalige finansiële adviseur, Schabir Shaik.