8 Julie 2021
Oud-president Jacob Zuma is agter tralies.
Sy konvooi het gisteraand omstreeks 23:20 sy Nkandla-woning verlaat waarna hy homself, volgens die Jacob Zuma-stigting gaan oorgee het. Volgens die Grondwethof-bevel het die polisie tot middernag gisteraand gehad om hom in hegtenis te neem.
Die departement van korrektiewe dienste se woordvoerder, Singabakho Nxumalo het bevestig dat Zuma net na half 2 vanoggend by die Estcourt gevangenes aangekom het.
Hy sal na verwagting sy 15 maande gevangenisstraf hier uitdien.
Zuma se dogter, Duduzile Sambundla Zuma het gisteraand die video gedeel waarin haar pa op pad tronk toe is.
Intussen het die ANC se geskorste sekretaris-generaal, Ace Magashule vir Zuma as ‘n held beskryf, en hom sterkte toegewens tydens hierdie stormagtige periode.
Magashule sê die voormalige president is deur die regstelsel geteiken, en dat die waarheid oor die regbank se houding jeens Zuma nog op die lappe sal kom.