17 November 2022
‘n Israeliese voortvlugtige – wat beskryf word as dié land se mees gesoekte bendeleier – is in Johannesburg in hegtenis geneem tydens ’n operasie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Interpol.

Die polisiewoordvoerder kolonel Athlenda Mathe sê die 46-jarige man word glo verbind met ‘n kriminele organisasie in Israel genaamd die Abergil Organisation, wat hulle skuldig maak aan dwelmhandel, afpersing en ander kriminele aktiwiteite.
Daar is wêreldwyd na die man gesoek sedert Interpol in 2015 ‘n Rooikennisgewing uitgereik het nadat hy in Israel gesoek is vir sameswering om moord te pleeg en poging tot moord.
Hy is vroeg vanoggend saam met sewe ander verdagtes by ‘n huis in Bryanston in hegtenis geneem.
Die polisie het beslag gelê op vyf aanvalsgewere, sewe pistole, sowat $40 000 in kontant en drie vermoedelik gesteelde motorfietse.