Nuuskommentaar: 18 Oktober 2021
Deur: Jaco Kleynhans
Die geliefde Britse parlementslede, Sir David Amess, is verlede Vrydag in ‘n kerk in die ooste van Engeland, waar hy besig was om gesprekke met inwoners van sy kiesafdeling te voer, deur ‘n Islamitiese terroris met ‘n mes doodgesteek. Dié gewelddadige aanval het Engeland, en die hele Verenigde Koninkryk, geskok.
Die moord op Amess volg slegs enkele dae na ‘n aanval in Noorweë waarin ‘n geradikaliseerde Moslem vyf mense met ‘n pyl en boog vermoor het. Dit volg ook byna ‘n jaar na die wrede onthoofding van die Franse onderwyser Samuel Paty verlede Oktober deur ‘n 18-jarige Moslem-immigrant uit Tsjetsjnië in Rusland.
Sedert die moord op Paty het daar ook verlede jaar op 29 Oktober ‘n Islamitiese terreuraanval in Nice in Frankryk plaasgevind toe ‘n onwettige immigrant uit Tunisië drie mense by die Notre Dame Katedraal in dié stad vermoor het.
Op 2 November verlede jaar is 4 mense dood en 15 beseer in ‘n Islamitiese terreuraanval in Wene, Oostenryk. Vroeër vanjaar is een persoon dood en ses mense beseer in ‘n soortgelyke aanval in Auckland, New Zeeland.
Die wêreld word nie net deur Islamitiese terreur geraak nie en van tyd-tot-tyd pleeg regse ekstremiste, anargiste en mense met allerhande vreemde neigings of persoonlike versteurings ook terreuraanvalle. Islamitiese terreur neem egter wêreldwyd toe en bied in Westerse lande unieke uitdagings.
Dit is natuurlik nie net Westerse lande wat ernstig deur Islamitiese terreur geraak word nie. Daar sterf tans byna daagliks mense in talle Afrikalande en die Midde-Ooste in Islamitiese terreuraanvalle.
Wat egter in die meeste aanvalle in Westerse lande, soos in verlede Vrydag se aanval in Engeland, die geval is, is dat die aanvaller ‘n immigrant of ‘n immigrante-afstammeling is, wat tydens sy verblyf in ‘n Westerse land meer radikale Islamitiese idees en organisasies begin aanhang het.
Die meeste Islamitiese terreuraanvalle in Afrika en die Midde-Ooste word deur Islamitiese terreurgroepe soos die Islamitiese Staat, Al-Kaïda, Boko Haram en Al-Shabaab gepleeg. Hoewel daar in sommige gevalle met aanvalle in Westerse lande ‘n verband tussen die aanvaller en Islamitiese terreurgroepe is, word die meeste aanvalle die afgelope paar jaar deur individue beplan en gepleeg.
Britse owerhede het oor die naweek gesê dat die 25-jarige man wat die Britse politikus vermoor het, van Somalië afkomstig is en dat hy al in die verlede na ‘n program wat Islamitiese radikalisering moet verhoed, verwys is. Hy het alleen opgetree.
In die meeste ander gevalle die afgelope paar jaar was owerhede bewus van die radikalisering van enkelinge wat terreurdade uitgevoer het, maar kon hulle nie daarin slaag om die aanvalle te stuit nie. Wat egter ook erken moet word is dat owerhede in Westerse lande voortdurend potensiële Islamitiese terreuraanvalle fnuik al hoor ons nie elke dag daarvan in die media nie.
Die meeste Westerse lande ervaar steeds daagliks ‘n toename in vlugtelinge, onwettige en wettige immigrante wat uit Moslemlande soos Afganistan, Sirië, Irak, Marokko, Tunisië, Algerië, Libië, Albanië en Turkye arriveer. Die groeiende Moslembevolking in byna elke Westerse land skep enorme uitdagings met assimilasie, integrasie en vraagstukke oor botsende kulturele- en geloofsidentiteite. Dit skep ‘n teelaarde vir fundamentalisme en uiteindelik terreur. Vrydag se aanval op die Britse politikus het weer eens bevestig dat Islamitiese terreur nog groot uitdagings vir Westerse lande gaan inhou.
Stem vir die Aitsa’s