Deur Esmarie Yssel
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het bevestig dat die Islamic State of Africa-party – die ISA – ’n aansoek by hom ingedien het om as politieke party te registreer. Sy leuse lui: Free all of Mankind.
Forever Yena News het op sy Facebookblad geskryf dat ’n nuwe groep in die Islamitiese Staat van Afrika probeer om ekstreme reëls af te dwing wat vryhede oornag kan uitwis.
“Kinders so jonk as nege jaar kan gedwing word om in huwelike te tree, terwyl vrouens deur ’n verbod uit skole en die publieke samelewing in die gesig gestaar kan word. Stel jou ’n toekoms voor waar dogters nie kan studeer of hulle eie pad kan kies nie,” skryf dié nuusblad.
Daar is egter op dié stadium nog weinig inligting oor dié party, sy leiers en beleid.
Roland Henwood, ’n politieke wetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Pretoria sê die oorsprong van die party is nie bekend nie, maar daar is reeds drie geregistreerde Moslem politieke partye in Suid-Afrika.
Die naam stem wel ooreen met die Isis-terreurorganisasie met dieselfde naam wat aktief is in Wes- en Oos-Afrika en Mosambiek.
Dis ook nog nie seker of die party met Isis geaffilieer is nie, maar Henwood sê indien dit die geval is, sal dit die registrasie as politieke party belemmer, aangesien teenterreurwetgewing dit sal verhoed. Boonop waarborg registrasie as party nie deelname aan verkiesings nie.
Henwood sê egter daar behoort ongetwyfeld kommer te bestaan oor ’n party met dieselfde naam as die wêreld se grootste terreurgroep wat die Suid-Afrikaanse politiek wil betree.
“Behalwe die wetlike komplikasies is daar op dié tydstip ook ernstige risiko’s ten opsigte van beleid en Suid-Afrika se reputasie. Daar is reeds ’n gespanne verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA én ander regerings. Dit kan beskuldigings dat Suid-Afrika indirek betrokke is by die finansiering van Isis verder versterk en pogings om die land van die Finansiële Aksie-taakspan se gryslys af te kry in die wiele ry,” sê Henwood.
Op die OVK se vorm waarmee potensiële partye om registrasie aansoek doen word daar by punt nommer 5 die geleentheid gebied om beswaar teen registrasie aan te teken.
Teenkanting moet daarvolgens in besonderhede in geskrewe formaat by die kantoor van die hoofkiesbeampte van die OVK binne 14 dae ná die publikasie van die kennisgewing ingedien word.