8 Februarie 2022
Die finansiële dienste maatskappy, Investec, vereis van sy werkers om op eie onkoste weeklikse Covid-19 toetse te ondergaan indien hulle nie teen die virus ingeënt is nie.
Namate die land se arbeidsmag terugkeer na hulle werksplek, dring die maatskappy nou daarop aan dat sy werknemers minstens drie dae per week van die kantoor af moet werk.
Die onderneming sê werknemers kom nie net in aanraking met hulle kollegas nie, maar moet ook vergaderings bywoon en met kliënte skakel.
Die maatskappy verplig nie tans werkers om ingeënt te word nie, maar die hoof van menslike hulpbronne, Lesley-Anne Gatter, sê die onderneming is van mening dat inenting steeds die beste manier is om ‘n veilige omgewing vir almal te skep.