Deur: Jaco Kleynhans
ʼn Bekende en gerespekteerde oudjoernalis en mediaman maak verlede week tydens ʼn podsending oor Amerika se president Donald Trump se besluit om invoertariewe op lande van oor die wêreld heen in te stel, die opmerking dat Trump glo soggens in sy kantoor instap en, afhangend van sy bui of wat in sy gedagtes opkom, beleid begin voorstel. Volgens dié bewerings sit sy personeel op hete kole en wag vir die verrassing waarmee hy volgende vorendag gaan kom.
Hierdie aanname is natuurlik gebaseer op ʼn kombinasie van hoorsê en een of twee boeke deur voormalige Trump-raadgewers soos John Bolton. Dieselfde liberale politieke kommentators wat Bolton in 2018 nog as ʼn gevaarlike, neokonserwatiewe en oorlogsugtige Trump-raadgewer afgemaak het, gebruik nou alte graag bewerings uit Bolton se boek, wat een ellelange aanval op Trump is, om te probeer bewys hoe onvoorspelbaar en gevaarlik Trump eintlik is.
Die vraag ontstaan dus: Volg Trump ʼn goeie strategie met die instel van invoertariewe, of is hy bloot ʼn populis wat uit die heup skiet en, na gelang van sy bui, besluit om allerhande ekstreme beleidsposisies van dag tot dag in te neem?
Om Trump te verstaan, is dit nodig om weer sy toesprake tydens verlede jaar se verkiesingsveldtog te gaan bestudeer. Dit is ook nodig om weer na onderhoude van tot 20 of 30 jaar gelede met Trump te gaan kyk. Kyk gerus ook na onlangse onderhoude met kabinetslede, veral die minister van Finansies Scott Bessent, oor die Amerikaanse ekonomie.
Trump se denke oor die Amerikaanse ekonomie is die afgelope paar jaar sterk beïnvloed deur skrywers soos Pat Buchanan. In sy boek, Suicide of a Superpower, wat in 2011 verskyn het, herinner Buchanan Amerikaners daaraan dat die Amerikaanse federale regering nog tydens die Clinton-jare in die 1990’s begrotingsoorskotte behaal het. Selfs in 2000, Clinton se laaste jaar in die Withuis, is ʼn begrotingsoorskot behaal. Amerika se staatskuld, uitgedruk as ʼn persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP), het vanaf 1998 tot 2001 van 43% tot 33% gedaal.
In 2011 haal Buchanan ook die Republikeinse senator Judd Gregg aan, wat toe reeds daarop gewys het dat die VSA op ʼn fiskale ramp afstuur. Gregg het in 2010 in ʼn toespraak daarop gewys dat staatsbesteding in die VSA tussen 2008 en 2010 vanaf 20% van die BBP tot 28% toegeneem het. Tussen 2001 en 2011 het die Amerikaanse ekonomie as ʼn persentasie van die globale ekonomie van 32% tot 24% gekrimp. Amerika se staatskuld as ʼn persentasie van totale globale staatskuld het egter tot 35% gestyg.
In die 14 jaar sedert die verskyning van Buchanan se boek, het die krisis net verder verdiep. Amerika se staatskuld het teen Desember 2024 tot 124% van die BBP gestyg. Tydens die vier jaar van Joe Biden se bewind as Amerikaanse president, het staatsbesteding met 22% toegeneem. Die land staan op die rand van fiskale ondergang.
Amerika het nie net ʼn probleem met ʼn groterwordende, onbekostigbare federale regering nie. Die voordele van globalisering, soos makliker internasionale interaksie en reusegeleenthede in internasionale handel, is welbekend. Die nadele van globalisering is egter vandag in die VSA duidelik sigbaar.
Amerika het in 1975 laas ʼn handelsoorskot gehad. Amerika was vir meer as ʼn eeu ʼn reuse- netto uitvoerder van produkte. Globalisering, toegang van Chinese goedere tot die Amerikaanse mark (terwyl China se valutamanipulasie en swak arbeidspraktyke bekend is) en verskeie ander uitdagings het egter tot ʼn enorme verlies aan Amerika se vervaardigingskapasiteit oor die afgelope vyf dekades gelei. Teen 2024 het die VSA ʼn nuwe rekordhandelstekort van $918,4 miljard aangeteken. Dit is $133,5 miljard hoër as die tekort van $784,9 miljard in 2023. Amerikaanse uitvoere het in 2024 $3,191,6 miljard beloop, teenoor invoere van $4,110,0 miljard.
Dit is egter nie net produkte en dienste wat die afgelope paar dekades toenemend deur die VSA ingevoer is nie. Daar was ook ʼn massa-instroming van miljoene immigrante, wettig en onwettig, vanaf alle dele van die wêreld na die VSA. Dit het ʼn demografiese tsoenami veroorsaak wat die Amerikaanse samelewing op verskeie vlakke ontwrig het. Misdaad, haat jeens Amerika, anti-Westerse sentiment en die woke-ideologie is alles neweprodukte van die houvas wat globalisme in die VSA begin kry het.
Trump 2.0 is ʼn direkte gevolg van al die negatiewe gevolge van globalisering. Die globalistiese ideologie, die vernietiging van Amerikaanse vervaardigingsposte, ʼn federale regering wat nie meer gekenmerk word deur sy fokus op Amerikaanse belange, doeltreffendheid en diens aan die Amerikaanse bevolking nie, en buitensporige massa-immigrasie, is die dinge wat Trump in sy visier het. Hy wil Amerika se glorieryke dae van die tydperk voor die middel-1970’s herstel. Wat buitelandse beleid betref, wil Trump die VSA laat terugkeer na die tydperk van voor die Wêreldoorloë toe Amerikaanse buitelandse beleid in diens van Amerikaners gestaan het.
Trump skiet nie net uit die heup nie. Elke stukkie beleid wat hy die afgelope paar weke geïmplementeer het, is gebaseer op ʼn terugstoot teen die negatiewe gevolge van globalisering. Of dit gaan slaag, sal ons nie nou al kan bepaal nie. Dit kan slaag, maar dit kan ook misluk. Wat egter oneerlik is, is om te beweer dat Trump se beleid onsamehangend is, en gedrewe sou wees deur sy eie emosies, gevoelens en impulse. Daar is ʼn baie groter strewe agter die Trump-doktrine van 2025.
Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.