24 Julie 2023
President Cyril Ramaphosa sê openbare infrastruktuur in die land word in die meeste gevalle nié behoorlik onderhou en opgegradeer nie.
Luidens die president se weeklikse nuusbrief is nadelige gevolge soos ongelukke en die uitbreek van siektes, wat deur dié gebrek aan instandhouding veroorsaak word, al meer sigbaar.
Ramaphosa sê sy regering sal voortgaan om beleggings in infrastruktuur te prioritiseer. Hy voer aan dat inwoners, ondernemings en die ekonomie daarby sal baat as maatskaplike infrastruktuur beter onderhou word.
Volgens Ramaphosa bestaan daar infrastruktuur van ‘n uitstekende gehalte in Suid-Afrika, maar dit word nie in stand gehou of opgegradeer nie. In 2022 het die Suid-Afrikaanse Instelling van Siviele Ingenieurswese die land se infrastruktuur ‘n D-gradering gegee. Dit is net een plek hoër as ‘n E-gradering wat beteken ‘n stelsel het misluk.
Hy meen die instandhouding van openbare infrastruktuur is plaaslike regering se verantwoordelikheid. “Ons is steeds bekommerd dat munisipaliteite nie hulle begroting bestee op instandhouding nie.”
Hy sê die regering het reeds verlede maand besluit dat munisipaliteite meer verantwoordbaar gehou moet word.
