16 Mei 2023
Meer as ‘n honderd inskrywings vir die 2023 Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings is reeds ontvang sedert inskrywings vir die gesogte toekenningsgeleentheid twee weke gelede geopen het.
Kunstenaars, liedjieskrywers, vervaardigers, bestuurders en platemaatskappye het nog ‘n paar dae tyd om hulle inskrywings te voltooi.
Inskrywings sluit om middernag op Vrydag 26 Mei 2023.
Soos in die verlede is die kategorieë vir pop-liedjie van die jaar, liedjieskrywer van die jaar, luisterliedjie van die jaar en nuweling van die jaar, baie gewild.
Selfs die nuwe kategorie, klassieke snit van die jaar, sorg reeds vir goeie mededinging.
Volgens die voorsitter van die Aitsa Trust, Mnr Willie Spies is die groeiende aantal inskrywings tekenend van die feit dat Afrikaanse musiek ‘n bloeitydperk beleef en deurlopend nuwe talent oplewer.
Slegs vrystellings wat vanaf 1 April 2022 tot 31 Maart 2023 uitgegee is, kan ingeskryf word. Die groot aantal inskrywings wat reeds ontvang is vir die “nuweling van die jaar” is ‘n aanduiding van die steeds groeiende talentpoel van Afrikaanse musiek.
Beoordeling van al die inskrywings vind plaas van 7 tot 9 Junie 2023 en die beoordelingspaneel bestaan uit ‘n paneel onafhanklike beoordelaars, wat Gisela de Villiers, AJ Opperman, Rian Swanepoel, Carlé van Deventer, Anaretha Naude en Henco Harmse insluit.
Die toekeningsaand van die Aitsas 2023 vind op 19 September 2023 by die Choose Life Ouditorium in Pretoria plaas en beloof om weer ’n spoggeleentheid te wees met die room van die land se Afrikaanse kunstenaars. Kaartjies is reeds beskikbaar by iTickets.
Vir enige navrae, stuur gerus ’n e-pos na [email protected] of skakel:
Willie Spies
Voorsitter: Aitsa Trust
Selfoon 083 676 0639
