2 Augustus 2023
Meer as 340 000 mense wat kriminele rekords het nadat hulle tussen Maart 2020 en Januarie 2021 Covid-19-inperkingsregulasies verontagsaam het, kan dalk voor die einde van die jaar van dié las ontslae wees as die Wysigingswetsontwerp op Geregtelike Aangeleenthede as wet aanvaar word.
Hoewel die meeste van hulle gevangenisstraf vermy het en uiteindelik boetes vir hul oortredings betaal het, is hulle met kriminele rekords belas.
Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het die wetsontwerp reeds by die parlement ingedien vir oorweging.
Volgens die voorsitter van die parlemetêre komitee, Bulelani Mangwanishe, sal daar binnekort openbare verhore hieroor gehou word en word daar beplan om dit reeds voor die einde van die jaar af te handel.
AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk sê die stap is ‘n stap in die regte rigting. Die organisasie het antwoorde geëis oor die kriminele rekords vir mense wat gedurende die inperking byvoorbeeld nie gesigmaskers gedra het nie.
Volgens Broodryk het AfriForum klagtes ontvang van mense wat nie vir werksgeleenthede kon aansoek doen nie weens die kriminele rekords.
