Nuuskommentaar: 24 Julie 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Die Indiese diaspora is besig om nie net die grootste nie, maar ook die invloedrykste diaspora van enige land ter wêreld te word. Terwyl die Britse premier, Rishi Sunak, ʼn afstammeling van Indiese immigrante is, is die Amerikaanse adjunkpresident, Kamala Harris, se ma ʼn Indiese immigrant. Byna 20 Britse parlementslede is deel van die Indiese diaspora, terwyl ses Australiese parlementslede en vyf lede van die Amerikaanse kongres van Indiese herkoms is.
Die nuwe president van die Wêreldbank, Ajay Banga, is in Indië gebore en woon al jare in die VSA. Net so is ʼn groter wordende groep uitvoerende hoofde van Amerikaanse maatskappye deel van die Indiese diaspora in die VSA.
Verlede jaar het 89 127 miljoen Amerikaanse dollar vanaf miljoene Indiese immigrante wat in die buiteland werk na Indië gestroom. Dit is die grootste bedrag inkomende betalings wat in een jaar vanaf die buiteland deur die diaspora van enige land ooit in die wêreld se geskiedenis oorbetaal is.
Indië het China onlangs verbygesteek om die wêreld se grootste bevolking te hê. Indië het sedert 2010 egter ook die grootste diaspora van enige land ter wêreld met minstens 18 miljoen mense wat in Indië gebore is wat tans in die buiteland woonagtig is. Wanneer tweede-, derde- en vierdegenerasie-immigrante hierby gereken word, het Indië ʼn enorme voetspoor reg oor die wêreld.
Telugu, wat in die suide van Indië gepraat word, is reeds die afgelope paar jaar die vinnig groeiendste taal in die Verenigde State van Amerika. Die suide van Indië lewer ʼn ooraanbod van hoogsgeskoolde jong mense wat in mediese beroepe, ingenieurswese, inligtingstegnologie en ander skaars beroepe opgelei word.
Een van die gevolge van Indië se koloniale geskiedenis is dat minstens ʼn derde van die Indiese bevolking, veral hoogsgeskoolde jong Indiërs, ook Engels magtig is wat hul emigrasie na lande soos die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australië en Nieu-Seeland vergemaklik.
Terwyl miljoene arm Indiërs as hande-arbeiders in die ryk Golfstate soos Katar, die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein en Saoedi-Arabië werk, is dit veral Engelssprekende Westerse lande wat hoogsgeskoolde jong mense uit Indië lok.
Tydens die Indiese premier Narendra Modi se besoek aan die VSA verlede maand het die Amerikaanse regering aangekondig dat dit voortaan nog makliker gaan word vir hoogsgeskoolde Indiërs om ʼn werksvisum vir die VSA te kry. Indië se ooraanbod van jong mense wat meestal goeie skoolopleiding ontvang en dikwels ook aan ʼn goeie Indiese universiteit studeer het, bied vir baie Westerse lande, wat ʼn voortdurende tekort aan vaardighede weens ʼn verouderende bevolking ervaar, minstens ʼn tydelike oplossing.
Indië is geopolities, ekonomies en militêr besig om een van die magtigste lande ter wêreld te word. Die land se enorme diaspora speel ʼn groot rol hierin, nie net deur geld na Indië terug te stuur nie, maar ook deur politieke en ekonomiese brûe te bou wat veral handel en beleggings bevorder. Die Indiese regering beskou sy diaspora as ʼn bate en ʼn strategiese sterkpunt en benut juis die omvangryke Indiese diaspora-netwerk om politieke en ekonomiese bande wêreldwyd te versterk.
Lande en volke met ʼn groter wordende buitelandse diaspora, insluitende die Afrikaners, kan heelwat by die Indiese model van globale invloed leer. In ʼn wêreld waar immigrasie aan die orde van die dag is, is die behoud van ʼn kultuurband wat uiteindelik politieke en ekonomiese dividende kan betaal toenemend noodsaaklik.
