Nuuskommentaar: 14 April 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Twee belangrike gebeure het verlede week weer beklemtoon tot watter mate China tans op ’n selfgeldende wyse homself as die belangrikste magspeler in Asië, maar selfs die hele wêreld, probeer vestig. Onder leiding van president Xi Jinping en sy nuwe Chinese nasionalisme word China se ekonomiese mag toenemend gebruik om van China ook ’n geopolitieke en militêre mag te maak.
Die besoek van die Franse president, Emmanuel Macron, en die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, aan Beijing was vir president Xi ’n gulde geleentheid om vir die wêreld te wys tot watter mate China se invloed die afgelope paar jaar toegeneem het. Macron het Xi bykans gesmeek om Rusland te probeer oortuig om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Twee dekades gelede was Rusland nog die senior vennoot in die Russies-Chinese vriendskap, maar deesdae is dit China wat ’n posisie van mag en invloed oor Rusland kan uitoefen.
Macron en Von der Leyen is met leë hande uit China weg, maar hulle het voor Xi ook as swak voorgekom. Macron het tydens sy terugkeer na Parys aangekondig dat hy aan China wou wys dat Frankryk nie maar net ʼn navolger van die VSA is nie. Daardeur het Macron in die hande van Xi gespeel wat graag wil sien dat die Weste verdeeld moet optree.
Die tweede belangrike kwessie wat verlede week die aandag op China gevestig het, was die ontmoeting Woensdag tussen die president van Taiwan, Tsai Ing-wen, en die speaker van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers, Kevin McCarthy, by die Ronald Reagan Presidensiële Biblioteek in Kalifornië. Die ontmoeting volg op die vorige speaker, Nancy Pelosi, se besoek aan Taiwan verlede Augustus.
Sedert die VSA in 1979 begin het om sy verhouding met China te normaliseer, was daar nog altyd ernstige vrae oor hoe China sou optree wanneer dié land ’n globale ekonomiese mag word. Die afgelope tien jaar onder leiding van Xi Jinping is hierdie vraag toenemend beantwoord.
China bly ’n kommunistiese eenpartydiktatuur. Onder Xi is binnelandse en buitelandse spioenasie, sowel as die propagandaveldtog om Chinese by Xi se droom van China as magtigste land ter wêreld te laat inkoop, wesenlik verskerp. Van al die hoop en beloftes op hervorming het niks gekom nie. China is vandag meer onderdrukkend, met strenger media-sensuur en groter onderdrukking van minderhede, burgerlike organisasies en kritici as wat die geval die afgelope veertig jaar was.
In reaksie op die ontmoeting in Kalifornië het China vir die tweede keer in agt maande die eiland van Taiwan byna heeltemal met oorlogskepe en vegvliegtuie omsingel. Net soos wat China sy ooreenkoms oor vryhede in Hongkong toenemend verbreek, en China neutraliteit oor die Oekraïne-oorlog predik maar inderwaarheid sy bande met Rusland verder versterk, kan China se motiewe in Asië, en in die besonder met Taiwan, nie vertrou word nie.
Terwyl president Xi tans met geduld, ’n slim strategie en volledige beheer oor die hefbome van mag in China sy land se globale rol voortdurend kan uitbrei en versterk, sit die Weste met ondergemiddelde leiers soos Macron, Von der Leyen en Joe Biden in die VSA. Hierdie leierskap gaan oor die volgende maande en jare deeglik deur China getoets word.