Deur: Esmarie Yssel
12 Oktober 2021
’n Ma van Secunda, Andri Mahne, sit hande in die hare, omdat sy namens haar seun, die 17-jarige Armand, op die departement van binnelandse sake se aanlyn stelsel ’n profiel geskep het waarop sy vir hom wou aansoek doen vir ’n paspoort en Slim-ID-kaart.
Wat die tameletjie veroorsaak het is toe vriende vir mev. Mahne vertel het dat Armand as 17-jarige sy eie profiel kan skep en sy daarvolgens haar aansoek – wat sy namens hom ingedien het – gekanselleer het.
LEES OOK: AGTERSTAND IN LISENSIES VERANDER VERANTWOORDELIKE BURGERS IN KANSVATTERS
“Ek het in Junie vanjaar ’n profiel geskep om vir myself aansoek te doen vir ’n “Slim-ID” asook vir my seun, aangesien ek gedink het hy gaan deur as ’n minderjarige. Die enigste opsie wat daar op my profiel was vir ’n minderjarige was ’n paspoortaansoek. Aangesien hy ’n paspoort ook benodig, het ek toe sommer aansoek gedoen daarvoor. Toe ek egter uitvind dat hy sy eie profiel kan hê van 16-jarige ouderdom af het ek die versoek op my profiel gekanselleer. Ek het vir hom ’n profiel geskep en aansoek gedoen vir sy ID as eerstekeer-aansoeker. Die een ná die ander versoek is afgekeur.”
Mev. Mahne het hul plaaslike binnelandsesakekantoor besoek en beamptes daar het bevestig dat die probleem veroorsaak is deur haar aansoek vir Armand se paspoort en dat hulle niks kan doen om te help nie. Die eerste gekanselleerde aansoek blokkeer die stelsel.
Sy het e-posse aan die bedryfsdirekteur by binnelandse sake in Pretoria gestuur, sy’t geskakel en ook by Passport Assist en by binnelandse sake in die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Mpumalanga aangeklop om hulp. Sy het selfs so ver gegaan deur die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, se kantoor om hulp te vra, sonder enige sukses.
“Op 5 Oktober pak ek toe weer die stryd aan om maar eerder fisiek aansoek te gaan doen vir sy ID by die plaaslike tak. Die beampte wat my help, wys my daarop dat die paspoortaansoek steeds hul stelsel blokkeer en dat daar niks is wat hulle vir my kan doen nie.”
Mev. Mahne sê sy het nou alle opsies uitgeput en sit nou op moedverloor se vlakte.
LEES OOK: GRASIETYDPERK VIR HERNUWING VAN LISENSIES OM DIE DRAAI; REUSE AGTERSTAND
“Miskien is daar iemand wat sukkel met ’n soortgelyke situasie of dalk is daar ’n barmhartige beampte van binnelandse sake wat van my storie te hore sal kom wat bereid is om te help.
Ek is ’n moedelose ma wat die onbevoegheid nie meer kan duld nie. Hoe is dit moontlik dat ’n program ontwikkel word om ons lewens te vergemaklik, maar dat daar niemand is wat die ekstra myl wil stap of behulpsaam kan wees met hierdie platform nie? My seun word in Januarie 18 en hy moet kan aansoek doen vir ’n leerlingrybewys en ’n ID, wat hy uiteindelik sal nodig hê om matriek te kan skryf.”
Stem vir die Aitsa’s