28 Desember 2021
Huldeblyke stroom steeds in nadat ‘n bekende Vrystaatse boer en visepresident van Vrystaat Landbou (VL) gistermiddag saam met sy ma en 6-jarige dogtertjie in ‘n motorongeluk dood is.
Die 36-jarige Jacobus Stroebel van Rouxville en sy dogtertjie Marelize het gister Stroebel se ma, Miempie in Bloemfontein gaan oplaai om by hulle op die plaas te kuier. Op pad terug huis toe het ‘n motor die Stroebel’s se bakkie op die N6 getref.
Sy vrou, Charné en hulle 3-jarige seuntjie, Christoff het by die huis gebly.
VL sê Stroebel sal onthou word vir sy goeie humorsin asook toewyding aan die landbou en ook sy familie. Die gesin sou in 2022 na Kanada emigreer.
Die bestuurder van die ander voertuig is ook op die toneel dood verklaar.


