23 Oktober 2024
Huishoudings in Gauteng skuld munisipaliteite byna ’n R100-miljard.
Die provinsiale LUR vir finansies, Lebogang Maile, het dit vanoggend tydens ‘n plaaslike regeringsberaad in Muldersdrift aan die Wes-Rand bekend gemaak.
Volgens Maile staar munisipaliteite ernstige uitdagings in die gesig met die invordering van inkomste vir dienste.
Huishoudings, regeringsentiteite en kommersiële maatskappye skuld munisipaliteite in Gauteng meer as R132-miljard sedert Julie.
Maile sê munisipaliteite skuld entiteite soos Eskom en Rand Water R27-miljard.
Verteenwoordigers van al drie regeringsfere is intussen besig met ’n regeringsberaad om oplossings te ondersoek vir die finansiële, administratiewe en diensleweringskwessies wat Gautengse munisipaliteite in die gesig staar.