Die Bloemfonteinse Dieretuin het Maart verlede jaar sy deure gesluit as gevolg van die Mangaung-metro se wanbestuur.
Dié legendariese dieretuin by Koningspark is in 1910 tot stand gebring, maar het heeltemal tot niet gegaan en 151 diere is verlede jaar hervestig.
Elf buffels en ’n paar ander kleiner dierspesies is egter agtergelaat.
Reinet Meyer van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging in Bloemfontein sê dis die departement van ekonomiese sake, kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Destea, se verantwoordelikheid om die buffels te voer en te hervestig, maar hulle moet sekere toetse ondergaan alvorens dié skuif gemaak kan word.
Destea meen weer op sý beurt dat hy wag vir uitklaringsertifikate van die Vrystaatse departement van landbou se veeartsenydienste.
Dr. Elizabeth Snyman-Van Deventer, die VF Plus-koukusleier in die metro meen egter die blaam word net van een plek na ’n volgende verskuif.
“Die Vryheidsfront Plus het reeds verskeie vrae oor die dieretuin gevra en het die probleme onder die aandag van die burgemeester en stadsbestuurder gebring. Albei dra kennis van die 11 buffels in die dieretuin. Behalwe die gebrek aan kos, is die water wat die buffels moet drink ’n modderpoel. Daar is ook ander diere, soos poue en tarentale, wat gevoer word deur vrouens by banke en sake-ondernemings wat naby die dieretuin werksaam is,” sê dr. Snyman-Van Deventer.
“Dit is ’n onaanvaarbare situasie en Destea en die DBV moet aanspreeklik gehou word vir die haglike toestand van die buffels.”
Volgens Snyman-Van Deventer swyg die metro op die oomblik oor die buffels, omdat Destea en die DBV beheer oor die diere geneem het, maar, sê sy, dit beteken tog nie dat die metro sy hande in onskuld kan was nie, want daar is steeds metro-werknemers in die dieretuin.
“Die buffels moet so gou moontlik getoets en ingeënt word, soos nodig, en kos gegee word. Hulle moet egter liefs nie na enige van die provinsiale parke hervestig word nie, want verskeie diere, soos die renosters, het reeds in dié parke gevrek.”