24 Augustus 2023
‘n Eksterne onafhanklike oudit word deur die hospitaalgroep, Mediclinic, gedoen nadat daar aantygings gemaak is dat die groep met pasiënte se rekeninge peuter.
‘n Anonieme fluitjieblaser het in ‘n epos aan die hoofbeamptes van meer as 50 mediese fondse en lede van die media beweer dat mediese kodes wat pasiënte se toestand aandui, gemanipuleer is, sodat die hospitaalgroep finansiëel daarby kan baat.
Dit het glo by ses van Mediclinic se hospitale in die Wes-Kaap en Gauteng gebeur.
Netwerk24 berig dat die persoon, wat die e-pos gestuur het glo as ‘n gevallebestuurder by talle Mediclinic hospitale gewerk het. Die hospitaalgroep sê hy het daadwerklik opgetree sodra hulle van die bewerings bewus geraak het.
Die hospitaalgroep sê in ‘n verklaring hulle beskou die aantygings in ‘n ernstige lig.
