Talle motoriste in Ekurhuleni het vanoggend verkeersprobleme aangemeld wat vermoedelik veroorsaak is deur arbeidsoptrede deur metropolisiebeamptes van dié raad – veral op die R21-suid op pad na die lughawe.
Videos word wyd op sosiale media gedeel waarin gesien kan word hoe beamptes – wat oënskynlik in uniform is – die verkeer ontwrig.
Dit is nie duidelik waaroor die ontevredenheid handel nie, maar dit hou vermoedelik verband met ongelukkigheid oor beperkings wat op oortydwerk geplaas is.
Thabiso Makgato, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie, het bevestig daar is tans ’n betoging op die R21.
Die raad het verlede maand ‘n hofbevel gekry teen ‘n beplande staking, aangesien noodsaaklike werkers deur wetgewing verbied word om te staak.
‘n Finale hofuitspraak in dié verband word môre verwag.

