11 Januarie 2024
Die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenwald sê 375 vuurwapens – wat as bewysstukke in die polisie se SAP 13-stoorkamers landwyd geberg was – is sedert die 2020/21-boekjaar gesteel.
Slegs ses private persone is tot dusver hieroor in hegtenis geneem.
Dit blyk uit antwoorde van die minister van polisie, Bheki Cele, op vrae hieroor.
Groenewald sê dit laat onwillekeurig die vraag ontstaan wat dan geword het van die hofsake waarin dié wapens as bewysstukke gebruik is.
Hy sê daar kan geredelik aanvaar word dat vuurwapens hoofsaaklik verbind word met ernstige sake soos moord en roof en sonder hierdie bewysstukke is die kanse goed dat daar nie suksesvolle vervolging is nie.
“Die VF Plus het ernstige bedenkinge oor die feit dat geen lid van die polisie aangekeer is nie. Dit is moeilik om in te sien hoe honderde vuurwapens uit goed beskermde bergingsgeriewe gesteel kan word sonder hulp van binne.”
Groenewald meen die indruk wat hier geskep word, is dat die wapens gesteel word sodat verdagtes vervolging en straf kan vryspring.