18 Julie 2022
Die vakbond, Solidariteit het die besluit van die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwelkom om sy inentingsbeleid op te skort.
Dit volg nadat Solidariteit die universiteit met ʼn kostebevel in sy voortslepende hofsaak met dié instelling gedreig het.
Solidariteit het reeds op 12 Januarie ʼn hofaansoek teen die UV se verpligte inentingsbeleid gebring, en het in Junie gedreig met ʼn kostebevel indien die universiteit nie sy beleid verander nie.
Die vakond se kommunikasiehoof, Morné Malan sê dit bly ʼn jammerte dat die universiteit daarop aangedring het om weerstand te bied teen die pad terug na normaliteit. “Toe die Covid-19-regulasies op nasionale vlak opgehef is, maar die UV met inperkings op sy kampus voortgegaan het, was dit duidelik dat die universiteit daarop ingestel was om studente en personeel se grondwetlike regte sonder enige duidelike beweegrede in te perk,” sê Malan.
Die universiteit het die afgelope naweek in ‘n verklaring bevestig dat die beleid opgehef word en het die personeel en studente bedank vir hulle geduld gedurende die Covid-19-pandemie.