22 April 2024
Die ANC sê hy sal appelleer teen die uitspraak van die hoogeregshof in Durban, wat vroeër vandag die ANC se handelsmerk-saak teen die MK-Party met koste van die hand gewys het.
Die ANC se woordvoerder in KwaZulu-Natal, Mafika Mndebele, sê die party sal uit beginsel teen die uitspraak appelleer.
Mndebele sê toekomstige generasies sal die leierskap van die ANC kwalik neem, as hulle nie probeer om hul handelsmerk te verdedig nie.
In sy aansoek het die regerende party die MK-Party daarvan beskuldig dat hy die Wet op Handelsmerke oortree het deur ʼn naam en kenteken te gebruik wat soortgelyk is aan dié van die ANC se militêre vleuel.
Die ANC het aangevoer dat die gebruik van die naam kiesers in die komende verkiesing kan verwar.