8 April 2024
Die vakbond, Solidariteit sê hy eis dringende optrede deur die departement van onderwys om gesondheid en veiligheid by die Hoërskool Kakamas in die Noord-Kaap te verseker om sodoende ‘n moontlike tragedie te voorkom.
Die hoof van beroepsgesondheid en -veiligheid by Solidariteit, Johan Böning sê luidens ‘n ondersoek deur die inspektoraat van die departement van indiensneming en arbeid voldoen die skool nie naastenby aan basiese veiligheidswetgewing nie.
Hy sê behalwe die vuil en verwaarloosde badkamers en klaskamers, is daar ook gevaarlike krag-installies. “Die skool het nie ʼn elektriese sertifikaat van voldoening nie, en brandbestrydingstoerusting word glo nie jaarliks gediens en onderhou nie.”
Böning sê verder dat daar nie noodhulptoerusting is nie, en dat geen opleiding in noodhulp aangebied word nie.
“Solidariteit het teen die einde van verlede jaar ‘n skrywe oor dié kwessies aan die skool gerig, maar het steeds geen reaksie gekry nie.” Böning sê nadat hulle ‘n klagte by die departement van indiensneming en arbeid ingedien het, het amptenare die skool in Januarie besoek.
‘n Kennisgewing oor die probleme by die skool is uitgereik en die skool is opdrag gegee om binne 60 dae aan die vereistes te voldoen. “Tydens ‘n opvolgbesoek op 4 April het die departement egter gevind dat die skool nie aandag aan die kwessies gegee het nie.”
Hy sê die situasie by skool is onaanvaarbaar. “Ons almal weet van soortgelyke tragedies wat in die verlede by skole afgespeel het. Hier is ʼn geleentheid om só iets te keer, en daarom vra Solidariteit vir aksie deur die Departement van Onderwys – voor dit te laat is,” sê Böning.