24 Mei 2021
Die Hoërskool DF Malan in Belville beoog om sy beplande naamsverandering ‘n inklusiewe proses te maak.
Dit kom nadat dié skool se beheerliggaamvoorsitter, André Roux die afgelope naweek bevestig het dat hulle met die proses gaan begin om die skool se naam te verander.
Hy het in ‘n verklaring benadruk dat hierdie besluit deel was van ’n maandelange proses van konsultering waartydens alle aspekte van die skool se identiteit en toekomsvisie onder bespreking was.
Roux sê dit is duidelik dat die skoolgemeenskap graag die skool se etos en identiteit wil uitbou en daarom graag wil werk aan simbole wat dit, waarvoor die skool staan, beter uitbeeld op maniere wat die gemeenskap kan inspireer en waarmee hulle beter kan identifiseer.
Roux sê prakties gesproke beteken dié besluit nou dat ‘n klein werksgroep getaak is om ondersoek in te stel na onder andere moontlike nuwe skoolname en die implikasies van so ’n naamsverandering.
Hy sê dit is slegs die begin van die proses daarom het hulle nog geen ander naam of ‘n lys van voorstelle vir moontlike nuwe name nie.
Roux meen hulle besef die besluit kan ’n sekere mate van onrustigheid by die skoolgemeenskap meebring, maar meen dit behoort eerder beskou te word as ‘n opwindende geleentheid om voort te bou op die skool se suksesse.