14 November 2022
Eskom het gewaarsku dat ‘n moeilike week voorlê wat beurtkrag betref nadat ‘n aantal elektrisiteitsopwekkingseenhede die afgelope naweek onklaar geraak het.
Die bedryfshoof, Jan Oberholzer, sê die groot Drakensberg-pompopgaarskema – wat gebruik word om druk op kragstasies te verlig tydens spitstye – is net twee derdes vol.
Aan die positiewe kant is die damvlakke van die Ingula- en die Palmiet-pompopgaarskemas voldoende om op te maak vir ‘n gedeeltelike gebrek aan opwekkingsvermoë.
Nagenoeg 20 000 Megawatt van die kragverskaffer se opwekkingsvermoë is tans nie beskikbaar nie – waarvan ‘n driekwart weens onvoorsiene omstandighede is.
Beurtkrag word die afgelope vyftien dae ononderbroke toegepas en dit staan tans op fase-2.
Van die 318 dae vanjaar is daar op 155 van hulle beurtkrag toegepas.