4 Augustus 2022
‘n Kanadese lekkergoedmaatskappy, Candy Funhouse, het vandeesweek die media se aandag getrek met ‘n LinkedIn plasing vir ‘n hoof-lekkergoedbeampte-posisie by dié maatskappy.
Dit omdat die persoon wat dié pos beklee alle lekkergoed moet toets en beheer moet neem “van alle prettighede!”
Die ideale kandidaat vir die posisie het ‘n soet tand, goue smaakknoppies en geen voedselallergieë nie. Boonop is die vergoeding om maandeliks meer as 3 500 lekkers te proe, CA$100000 of sowat R1,3 miljoen jaarliks.
Volgens die plasing is ‘n omvattende tandheelkunde plan ook by die pakket ingesluit.
Candy Funhouse sê hulle poog om die neigingstellers in die lekkergoedbedryf te wees en benodig daarom ‘n hoof-lekkergoedbeampte om pret by die maatskappy na nuwe vlakke te bring.
Enige iemand in Noord-Amerika, wat ouer as 5-jaar is en bereid is om snoepprodukte te toets, kan vir die pos aansoek doen. Die persoon sal ook vereis word om leiding te neem van die maatskappy se strategie.